Daarom, aanvaar mekaar, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God – Romeine 15:7 (2020-vertaling).
Deur die eeue het gelowiges sekere tekste in die Nuwe Testament as praktiese riglyne gebruik in die uitlewing van hul naasteliefde binne die gemeenskap van gelowiges. Die tekste staan as die “mekaar-tekste” bekend. Mense wat hierdie opdragte deel van hul lewe maak, leef met wysheid.
Die essensie van elke mekaar-opdrag is liefde. Aanvaarding beteken liefde sonder voorwaardes. Dit is presies wat Christus met ons gedoen het. Hy het ons onvoorwaardelik aanvaar. Ons hoef nie eers ’n sekere standaard te bereik nie. Opregte liefde aanvaar voetstoots. Sonder meer.
William James, 19de-eeuse Amerikaanse filosoof, het gesê: “Die sterkste kenmerk van die menslike natuur is die smagting om waardeer en aanvaar te word.”
Aanvaarding laat jou gelief voel; nie vir wat jy doen nie, maar vir wie jy is. Wanneer ons met deernis na ander kyk, sien ons die goeie raak. Wanneer ons oordeel, sien ons gebreke raak.
Rona Rupert se kinderboek Nou wil almal sien vertel die verhaal van ’n seuntjie wat vir die eerste keer met ’n bril skool toe kom. Deur die onderwyseres se simpatieke hantering verander sy klasmaats se aanvanklike negatiewe houding in aanvaarding. Hulle beny selfs die klein brildraertjie en almal wil sy bril opsit om so goed soos hy te kan sien, waarop hy antwoord: “Dit is nie omdat ek goed kan sien nie; dit is omdat ek weet hoe om te kyk.”
Wanneer ons deur die bril van aanvaarding na mekaar kyk, sien ons mekaar in perspektief.
Here, help my dat ek ook sal weet hoe om na ander te kyk. Amen