Dié soort wysheid kom nie van Bo nie, maar is aards, sinlik, duiwels, want waar daar naywer en selfsug is, kom daar wanorde en allerlei gemene dade (Jakobus 3:15-16).
Ons ken almal mense wat sleg luister.
Wanneer hulle in gesprek is met ander en skielik iets hoor wat aansluit by hulle leefwêreld of waarmee hulle nie saamstem nie – dan kan hulle hulleself byna nie help nie.
Hulle onderbreek die gesprek, val die ander spreker in die rede en begin onmiddellik met hulle eie storie. ‘n Storie wat dikwels getuig van ‘n oorbeheptheid met hulle eie opinies, kennis en insigte.
Selfs van ‘n trotse beterweterigheid en vurige ambisie.
Hierdie onvermoë om te luister en ander mense voortdurend met ‘n eie opinie en storie te onderbreek én te oortroef, dra in sigself die kiem van ongesonde kompetisie, spanning, naywer en verdeeldheid.
Die apostel Jakobus noem dit ‘n onegte, nagemaakte stuk wysheid. Een wat dikwels direk verantwoordelik is vir onnodige twiste, wanorde en allerlei gemene dade in ‘n gemeenskap. En wat allermins die koninkryk van God dien.
Dit is geen wonder nie dat Jakobus sy bekende hoofstuk oor die beheersing van ons tong met die veelseggende opmerking begin dat ons nie almal leermeesters moet probeer wees nie (Jak 3:1).
Nee, ons moet ons gawes en plek ken en veral ons woorde leer tel – voortdurend.
O Here, vergewe dat ons so sleg luister, so behep is met ons eie opinies. Maak ons vandag nederiger sodat ons met egte wysheid kan leef. Amen
Carel Anthonissen