Dié spreuke is bedoel om mense wysheid te leer en hulle te onderrig sodat hulle sal weet wanneer iemand verstandig praat – Spreuke 1:1.
Sokrates het gesê wysheid word op drie maniere aangeleer: deur nadenke of bepeinsing, nabootsing en ervaring. Dit maak nie saak op watter een van hierdie maniere ons wysheid bekom nie. Die hoofsaak is dat ons ore en ons hart oop sal wees.
In Spreuke 1 kom die woord “luister” herhaaldelik voor. Wysheid moedig mense aan om te luister. Sy stel dié wat luister, gerus: “Wie na my luister, sal veilig wees.” Dié wat Wysheid se raad en teregwysings verontagsaam, sal aan hul eie keuses oorgelaat word. Die gevolge is katastrofies: “Die dwase word vernietig deur hulle selfversekerdheid.”
Wysheid se oproep om te luister is toegespits op dié wat juis nie wil hoor nie: die onkundiges, spotters (grootpraters) en dwase.
Die priester-skrywer Cynthia Bourgeault sê om wysheid deur kennis te probeer vind, is dieselfde as om viool met ’n saag te probeer speel. Dit is eenvoudig die verkeerde instrument vir die taak.
Om geestelike boeke te lees of teologiese kennis bymekaar te maak, om jou met Christene te omring en geestelike gesprekke te voer – niks hiervan is ’n waarborg vir groei in wysheid nie. En wanneer ons nie in wysheid groei nie, groei ons ook nie in geestelike volwassenheid nie.
Geestelike insig kom nie slegs deur kennis nie, maar deur jou hart en gees en siel oop te stel om te hoor wat die Heilige Gees vir jou wil leer.
Here, ek wy my opnuut aan U toe. Laat my hart luister. Amen.