“En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie” – Johannes 3:19-20.
Die wetenskap leer ons dat energie nie geskep of uitgewis kan word nie. God is die Skepper van die heelal. Hy is die kragtige energiebron agter die hele skepping. Hy kan nie vernietig word nie.
Johannes 1:4-5 sê dit pragtig: “In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.”
Donkerte is ’n toestand. Dit kan nie uit iets geskep word nie. Om ’n plek donker te kry moet jy al die lig wegneem. Daarom is donkerte die simbool van sonde. Jesus Christus, die Lig vir die wêreld, verdryf dié duisternis. Hy nooi ons om in sy lig en liefde te kom lewe.
1 Petrus 2:9 stel dit só: “Julle, daarenteen, is ’n uitverkore volk […] wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. Ons is nou kinders van die Lig wat aan Hom behoort.”
Martin Luther King jr het gesê: “Duisternis kan nie deur duisternis uitgedryf word nie; slegs lig kan dit doen. Haat kan nie deur haat verdryf word nie; slegs liefde kan dit doen.”
Here, U is lig. Dankie dat U ook my Lig wil wees. Ek wil soos ’n kind van die lig lewe. Amen.