Nie aan ons nie, Here, nie aan ons nie, maar aan u Naam kom die eer toe, want dit is U wat liefde en trou bewys – Psalm 115:1.
Ons wat Christus ken en weet dat Hy ’n nederige hart van ons vra, moet daarteen waak om mense te verafgod. Ons moet versigtig wees om ander nie op te hemel en op voetstukke te plaas of in die kollig te stoot nie. Daardeur bemoeilik ons die pad van nederige erkentlikheid vir hulle. In al ons verhoudings moet ons steeds Christus kan sien, nie die mens nie.
Die verskil tussen die ophemel van mense en ontsag vir God lê in die draai van jou kop. Óf jy lig jou kop na ’n mens om hom of haar te bewonder, óf jou kop lig na God om Hom te eer. Dit is ’n lewensverskil.
God moet verheerlik word – ook in ander se prestasies. Ek mág saam met ’n vriendin bly wees wat ’n gesogte prys gewen het, of haar kind wat op skool presteer. Die kern is dat ek sal besef elke goeie gawe kom van God. Wat ek en ander ontvang, is genade. Wie ons ís, is genade. Daarom mag ons nie uit onsself roem nie.
Nederigheid is egter nié om te dink ons is niks werd nie. Dit is om te besef wie ons regtig is: ’n mens met goeie en slegte eienskappe. Absoluut nietig, maar terselfdertyd ’n erfgenaam van dié Koning der konings.
Here, nie aan ons nie, maar aan U kom al die lof toe. Amen.