“As jy byvoorbeeld armes help, moet dit nie uitbasuin nie. Dit doen die skynheiliges in die sinagoges en op straat, sodat mense met lof van hulle kan praat. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg. Nee, as jy iets vir die armes gee, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, sodat jou goeie daad verborge kan bly. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon” – Matteus 6:2-4.
Dit is ’n sterk uitspraak wat Jesus hier maak. Wanneer iemand ’n goeie daad doen net sodat ander dit kan sien en jou komplimenteer, baat dit jou niks. Dan kry jy beslis geen beloning van jou Vader wat in die hemel is nie.
Die woord “skynheilig” beteken dat jy die skyn van heiligheid het. Dit lýk of jy heilig is. In werklikheid is dít wat jy doen pure voorgee. Ander mense mag dalk nie jou ware motief raaksien nie. Jy word geprys en bedank, dalk selfs vergoed. God ken egter die diepste hartsgesindheid agter elke gebaar.
Dit is baie moeilik om iets met nét een hand te doen. Die ander hand is outomaties reg om te help, raak te vat en aan te gee. Die opdrag is dus nie so maklik nie. Wanneer ons iets met ’n dankbare hart gee, sonder om daaroor na te dink of iets terug te verwag, wys dit dat ons nie op onsself ingestel is nie, maar op God. Die pryswoorde van ander maak nie vir ons saak nie.
Here, help my om eerlik te antwoord op die vraag of ek iets steeds sou gedoen het indien niemand daarvan bewus was nie. Amen.