Liewe kinders, ons liefde moet nie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid – 1 Johannes 3:18.
Hoe leef ek die liefdesopdrag teenoor my héél naastes uit in my dae oorlopens toe vol eise? Waar begin ek?
Liefde is ’n opdrag … en liefde vra gehoorsaamheid.
Moeder Teresa het gesê: “Dit is baie makliker om ’n bakkie rys aan ’n arme aan die ander kant van die wêreld te gee as om daardie ‘bakkie rys’ aan iemand te gee wat onder jou dak van honger vir liefde sterf.” Die predikant-skrywer Trevor Hudson skryf in Signposts to spirituality: “Maak jouself diensbaar vir jou gesin. Maak tyd. Skep geleenthede. Los al jou belangrike dinge wanneer ’n kind oorkant jou staan. Dit is by jóú wat hy moet sien dat liefdediens vreugdediens is.”
Dikwels word ons huis ons ontvlugtingsplek. ’n Plek waar ons aan die einde van ’n dag net wil neerplons en skoene uitskop.
Maar dit werk nie so nie. In die meeste huishoudings begin daar ’n heel nuwe dag binne ’n bestaande dag sodra jy jou voordeur met die elmboog oopstoot – sleutels aan die pinkie gehaak; sakke brood, melk en groente in die een hand; handsak onder die blad; ’n iesegrimmige kleuter op die heup en ’n honger tienjarige vooruit yskas toe.
Dit is die werklikheid van menige dag. Dit verg selfdissipline en vars diensbaarheid. Ek moet vir myself sê: Ek het julle so lief, my hartsmense. En ek gaan dit wys. Ongeag hoe ek voel. Want liefde is ’n wilsbesluit.
Here, ek wil nie slegs praat oor liefde nie. Ek wil my hartsmense met u liefde dien. Amen.