Wie wil aan Mý eise stel dat Ek iets aan hom verskuldig is? Alles onder die hemel behoort aan My.” (Job 41:2).
Die manier waarop Job hom regdeur die boek teenoor sy vriende én God verweer, selfs met die Almagtige wil twis, verdien amper nie ‘n antwoord nie.
En tog, so lees ons in Job 38:1, het God vir Job geantwoord.
Op die oog klink dit na ‘n harde antwoord asof God daarmee vir Job as kleine, nietige mens op sy plek wil sit. Asof God, in die woorde van die teoloog Douglas Lawrie, wil sê: “Moenie met my sukkel nie. Ek is wyser en sterker as jy.”
En tog wie goed luister, sal agter die teregwysing ook veel deernis en simpatie hoor. Want die God wat hier uit ‘n stormwind praat, is nooit afsydig en ver nie. Hy hóór steeds vir Job, sy geliefde dienskneg, en tree met hom in gesprek.
Wat méér is: God gee, byna op ‘n luimige manier, vir Job ʼn kans om homself te bewys. Die vertaling in Job 38:3 lui letterlik: “Gord dan soos ‘n man jou heupe.” En: “Jy weet dit mos!” (Job 38:5).
Want sien, vir God was daar meer op die spel as net dít waaroor Job getob het. Deur toe te laat dat die Bose Job teister, gee God onder andere vir Job ook geleentheid om sy staal te wys. Om te wys dat, ondanks sy gebrekkige insig, hy steeds op God kan vertrou. Steeds mag glo dat God omgee, selfs al skuld God hom niks nie.
Sodat Job sy terugslae met geduld en selfs met ‘n tikkie verwondering mag bly dra – dit selfs kan oorleef.
Jy sal saamstem: Dit bly een van die vreemder, maar dan ook groter uitdaginge van ons geloof.
Here, help tog dat ons vandag agter die stormwinde wat oor ons waai ook u sagter stem sal hoor. Amen
Carel Anthonissen