Met harp en lier wil ek die dagbreek wakker maak. Ek wil U loof onder die volke, Here, ek wil U besing onder die nasies; want groot, ja, hoër as die hemel is u troue liefde (Psalm 108:3-5, Direkte Vertaling).
Hoe ouer ek word, hoe meer besef ek hoe belangrik die begin van elke nuwe dag is.
Oftewel, hoe belangrik dit is hoe óns elke nuwe dag begin of aanpak. Soos die spreekwoord lui: “Goed begonne is half gewonne.” Boonop bepaal die manier waarop ons ons dag begin ook die atmosfeer of stemming van daardie dag.
Baie mense betree hulle dag met ʼn vorm van oefening – miskien ʼn kort wandeling, ʼn paar kilometer op hulle fiets of ʼn sweetsessie in die gimnasium. Daarna ontbyt om die energievlakke reg te kry.
En dan gaan hulle werk toe, met al die verpligtinge wat daarmee saamgaan – hulle lees en antwoord e-posse, woon vergaderings by en kom afsprake na.
Ek wonder dikwels hoeveel van ons nog iets soos gebed of ʼn oomblik van stilte deel van sulke oggendrituele maak. Vir dié wat wel oor die jare heen so ʼn oomblik deel van hulle oggend gemaak het, het hierdie dissipline altyd groot en selfs onmisbare waarde.
Allereers omdat dit hulle daarvan bewus hou dat elke dag ʼn grootse gawe vol nuwe en selfs onbekende geleenthede en uitdagings is. Maar selfs belangriker nog, omdat dit die herinnering wakker hou dat ons lewe met al sy aktiwiteite uiteindelik in God se troue en liefdevolle hande is. God se hande wat ons bly dra, al gebeur wat ook al.
Dit was beslis die rede hoekom die psalmdigter die dag met ʼn lied in sy hart kon begin.
O Here, wanneer ek vandag opstaan, gee my ʼn lied in die hart omdat ek weet: U leef en U dra my met u liefde. Amen.
Carel Anthonissen