Omdat jy kosbaar is in my oë, geëer is, omdat Ek die Een is wat jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe – Jesaja 43:4 (2020-vertaling).
Ek het die gewoonte gehad om wanneer ek by ’n vertrek uitstap nog vir oulaas ’n opdrag aan die kinders te gee waar hulle by die tafel sit en huiswerk doen of op die bank lê en televisie kyk. Een middag roep een van my seuns my terug.
“Mamma moet my in die oë kyk wanneer Mamma met my praat.” Vir my was dit ’n keerpunt. Ek het besef: Elkeen van ons wil raakgesien word. Ons wil hê mense moet ons in die oë kyk. Ons wil nie na iemand se agterkop kyk nie.
Ons is almal “lyfhonger”. Studies toon dat jong bedelaartjies se grootste honger nie na kos is nie, maar na aanraking. Die uitsteek van ’n hand. ’n Vryf oor die kop. Aanraking en erkenning van ons menswees gee aan ons eiewaarde. Daarom moet ons mekaar in die oë kyk, nie skrams verby mekaar nie.
Vroeër jare het daar dikwels in voorhuise of aan die onderpunt van die gang ’n groot afdruk van De breede en de smalle weg gehang. Bo, in die middel tussen die twee weë, was ’n enorme oog, God se alsiende oog. Dit was vir my as dogtertjie vreesaanjaend om te dink God sien alles wat ek doen – goed en kwaad. Niks ontglip sy alsiende oog nie.
Vandag weet ek dat daardie alsiende oog in liefde en erbarming na my kyk. Dit is my Pa se oog wat Hy vir geen oomblik wegdraai nie.
Here, ek wil my mense in die oë kyk en werklik omgee. Amen.