“Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg” – Matteus 5:44.
Ons dink aan ons vyande as mense wat ons kwaadgesind is, dalk wetteloos lewe of ons persoonlike leed berokken het. Jou natuurlike reaksie is om wrewelrig en haatdraend teenoor so iemand te wees. En jy reken dat almal dit mos sal begryp en jou nie kwalik sal neem nie. Jesus sê egter presies die teenoorgestelde: “Julle moet julle vyande liefhê.” Sy liefde het geen versagtende klousule nie. Dit sê nie: “Liefde, indien die persoon jou goedgesind is”, of “Liefde, indien hy om vergifnis vra” nie. Die Here se liefde is nie van wederliefde afhanklik nie.
Dit is ’n liefde ten spyte van.
Bybelse liefde is God-gesentreerd, nie ek-gesentreerd nie. Dit is die liefde wat Jesus aan die kruis gedemonstreer het. Een van sy laaste gebede was vir sy vyande: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”
Jesus sterf vir sy “vyande”, vir almal wat Hom nie wou aanneem nie. Ook vir ons wat so halsstarrig volhard met ons onvergewensgesindheid.
In Leo Tolstoy se bekende roman War and peace lê Andrei Bolkonsky en sy vyand Anatole Kurágin albei swaar verwond in die hospitaal. Andrei verstaan vir die eerste keer die betekenis van God se liefdesopdrag: “Compassion, love for our brothers, for those who love us and for those who hate us, love of our enemies; yes, that love which God preached on earth and which I did not understand …”
Here, ek is ’n rentmeester van u liefde. Daarom geld u opdrag om my vyande lief te hê ook vir my. Amen.