Vou mekaar toe in Christelike liefde. Mag God aan julle groot rustigheid en vrede hier diep in julle binneste gee, aan almal van julle wat Christene is – 1 Petrus 5:14 (Die Boodskap).
Koningin Elizabeth het ’n goue reël gevolg wanneer sy haar openbare pligte nagekom het. Sy het nooit in die kamera gekyk wat op haar gerig was nie. Blykbaar kry Catherine, die hertogin van Wallis, dit spontaan reg. Sy kyk ’n siek seuntjie in die oë, skynbaar onbewus van die ander mense in die vertrek. Sy berei kospakkies by ’n nagskuiling voor en deel dit uit, haar aandag by elkeen voor haar.
Sue Monk Kidd haal haar mentor, Beatrice, aan: “Be what you’re actually doing at the moment. If you’re plowing, plow fully in the moment, with your whole mind and heart – in other words, ‘become plowing’.”
Daar word vertel van ’n leermeester wat ’n oorvloedige lewe vol vreugde gelei het. Ná sy dood het iemand aan een van sy leerjongens gevra wat die heel belangrikste ding op aarde vir sy meester was. Sy antwoord was: “Dít waarmee hy op ’n spesifieke oomblik besig was.” In ons omgang met ander moet ons heelhartig in die oomblik wees, ons aandag op die persoon voor ons toegespits. Ons moet sy diepste noodkreet hoor.
Wanneer ek volledig op iemand anders ingestem is, vra ek nie meer: “Wat is hierin vir my? Wat kan ek hieruit kry?” nie. Ek wonder nie of die kamera die oomblik vasgevang het toe ek die siek seuntjie se kop gestreel het of die kospakkie vir die bejaarde aangegee het nie. Ek is vasgevang in die oomblik.
Here, help my om myself spontaan vir ander oop te stel. Amen.