U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor – Psalm 23:5 (1933/1953-vertaling).
Kleintyd was die heel mooiste woorde van die ou Psalm 23 vir my “my beker loop oor”. In my gedagtes kon ek sien hoe God die bekertjie in my hande begin vol skink. Hy skink en skink. Hy hou nie op nie. Eers wanneer die dieprooi vloeistof oor die rand begin biggel, sit Hy sy groot silwer beker op die feestafel neer. En mý beker loop oor. Die toppunt van oorvloed.
Dit is steeds wat God wil doen. Hy wil ons seën. Nie skraps nie. Nie korrel-korrel met sy een oog op die milliliters wat Hy reeds ingeskink het nie. Nee, tot oorlopens toe.
God wíl ons seën en met sy goedheid en guns oorlaai. Ons moet dit glo. En daaraan vashou.
Sy goedheid en guns gaan egter nie net altyd saam met groot dinge nie. Seën van God lê dikwels in die gewone van elke dag. In die goeie wat na ons kant toe kom. Bietjies-bietjies dalk – tot ons beker oorloop. ’n Bejaarde vrou vertel: “Ek was so vier jaar oud toe dit eenkeer baie droog was op ons plaas. By plaasbidure en spesiale biddae is dringend vir reën gebid. Een middag het dit begin reën. Net ’n paar stofnat druppels. Ek het op die stoep uitgestap en hardop “Prys die Heer met blye galme” gesing. Dalk het die ander stilletjies vir my gelag. Dit het nie saak gemaak nie, want vir my was God se oorvloed in daardie paar druppels.”
Dankie, Here, dat genoeg ook oorvloed is. Amen.