Here, ons sal U volg en ons hoop in U stel. Om U te loof en prys is ons diepste hartsverlange. Selfs in die nag verlang ek na U. Ek kan nie wag vir die môre om te kom nie – Jesaja 26:8-9a (Die Boodskap).
Wie is hierdie God van wie die volk Juda hierbo sing vir óns? Is Hy die God van ons hartsverlange? Die God na wie ons selfs in die nag verlang? Die God wat die rede is waarom ons soggens opstaan? Of is Hy die beheerder en beoordelaar van die lewe waarin soveel onreg gepleeg word? Die onbetrokke God op ’n afstand?
In sy boek Gebed van die hart skryf Willem Nicol: “Ons woord ‘God’ verwys na ’n Werklikheid wat baie anders en groter is as wat jy jou kan voorstel. Dit wys na die Een wie se weerkaatsing jy sien in alles wat mooi en goed en liefdevol is, die diepste Verlange van jou hart, die enigste blywende Rusplek vir jou siel.
“Sy liefde is die omvattendste, deurdringendste krag in die heelal. Hy het dit uitgestort met die verlange dat ons Hom ook sal liefhê sonder om iets terug te hou.”
God se hartsverlange na my moet ook mý hartsverlange na Hom word.
God wil hê dat my soeke na wysheid by Hom begin. My gesprek met Hom eindig nie wanneer ek my Bybel toeslaan of “Amen” sê nie. Dit is ’n deurlopende lewensgesprek.
Martin Luther het tereg gesê: “God is nader, nog nader, as ’n hemp en broek.” Ons hoef nie op Hom te wag nie. Hy is reeds hier. Hy is ín ons.
Here God, U is my hartsverlange. Amen.