Jesus het haar geantwoord: “As jy geweet het wat God gee, en wie dit is wat vir jou sê: ‘Gee My ʼn bietjie water om te drink,’ sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het” (Johannes 4:10).
Die verhaal van Jesus se ontmoeting met die Samaritaanse vrou in Johannes 4 bly een van die mooiste verhale in die Bybel.
Dit raak aan baie van ons diep menslike frustrasies en verlangens.
Allereers praat dit van ʼn dieper dors in ons lewe. ʼn Dors wat nooit volledig bevredig sal kan word deur die produkte of middele wat elke dag so knaend deur die media en ander mense as onontbeerlik aan ons opgedring word nie. Produkte of middele wat ons dikwels angstig najaag om ons verveling en angs te probeer besweer. Maar telkens ontdek ons: Dit alles is tydelik; dit help nie lank nie, of soms glad nie.
O, ons ken hierdie klein fonteine waaruit ons elke dag drink en wat mettertyd leegloop. Wat ons leeg en onvergenoegd laat.
Gelukkig vertel hierdie verhaal ook vir ons van ʼn standhoudende bron. Jesus noem dit die lewende water wat ons dors volledig kan les. So volledig dat, al beland ons soms in die woestyn, al voel alles verlore, ons steeds kan weet: Daar bestaan ʼn oase wat nooit sal opdroog nie, ʼn fontein waaruit ons altyd nuwe lewe, hoop en vertroue kan put.
Na dié bron moet ons bly soek. Vir dié water moet ons, soos hierdie vrou, blý vra. Want dit is daar. Jesus bied dit vandag weer deur sy Woord en sy Gees vir jou aan. Lees maar net weer Johannes 4:10 en 13-14. Hoor dit as woorde vir jou.
Here, soos die psalmdigter, dors en smag ek vandag na U en na die lewe wat U alleen kan bied. Hoor my gebed wanneer ek vandag in stilte na U draai. Amen.
Carel Anthonissen