Hy luister na die gebed van dié wat alles verloor het. Hy sal hulle gebed nie verag nie (Psalm 102:18).
Die heel eerste en belangrikste ding wat ons moet help om die leegheid wat soms toeslaan in ons lewe te besweer, is geloof.
Dit is daardie hardnekkige vertroue dat selfs al loop alles mis, selfs al staan ek elke oggend met ‘n yslike hoofpyn en ‘n gevoel van leegheid op, daar steeds sin en betekenis in die lewe, ja, in mý lewe kan wees.
Volgens die verhale van die Bybel, hang hierdie sin of betekenis direk saam met die wete (én die vertroue) dat daar ‘n God bestaan wat vir mense sorg. ‘n God wat ten spyte van ons gespartel en gestoei, aan ons bly vashou. Ons ook bly dra en teen alle onheil en donkerte beskerm, selfs al lyk dit asof die onheil en donkerte dikwels die oorhand het.
Om dít te glo en selfs te ervaar, kom nooit maklik nie. Daarvoor moet ons telkens op ons knieë gaan en bid. Daarvoor moet ons smeek en pleit, aanhoudend en dringend. Presies soos die psalmdigter in Psalm 102 wat op ‘n stadium uitgeroep het: “Luister tog na my … verhoor tog gou my gebed, want vir my verdwyn die dae soos rook” (Ps 102:3-4).
Totdat hy ontdek het en daarvan kon getuig: “Hy (die Here) luister na die gebed van dié wat alles verloor het. Hy sal hulle gebed nie verag nie” (Ps 102:18).
Soms verg dit groot geduld om hierby uit te kom. Maar hierdie ontdekking bly ‘n deur na sin in ons lewe.
O Here, vandag wil ek dit glo: dat U sorg en dat U my gebede nie sal verag nie of ignoreer nie. Amen
Carel Anthonissen