“Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly. As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader uitvoer en in sy liefde bly. Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet” – Johannes 15:9-10, 12.
Ons het dié teksgedeelte al so dikwels gesien dat ons maklik bo-oor die woorde lees. Ons vervlak die liefdesopdrag tot ’n vlietende emosie wat opwel en verdwyn.
God se liefde is onpeilbaar groot. Te groot vir woorde. Liefde – of die afwesigheid daarvan – maak ál die verskil. Want liefde is wysheid, en die afwesigheid daarvan is dwaasheid.
Die lied “Ubi caritas” is reeds in 796 nC deur Paulinus van Aquileia geskryf. Ubi caritas, et amor, Ubi caritas, Deus ibi est beteken: “Waar daar liefde en deernis is, daar is God.” Die lied is aanvanklik by die voetwassingseremonie van die vroeë kerk gesing, met Jesus as voorbeeld van liefde in die praktyk.
Viktor Frankl skryf in Man’s search for meaning: “Deur ander lief te hê maak ons in hulle die onmeetlike moontlikhede los om te kan groei en te verander, en om te word wat God bedoel het hulle moet wees.” Die afwesigheid van liefde is die oorsaak van opstande, burgeroorloë, wêreldoorloë. Ewe ingrypend is die gevolge van liefdeloosheid tussen man en vrou, kinders en ouers, vriende onderling. Want waar daar nie liefde is nie, word Christus se lig uitgedoof.
’n Oudpredikant sê: “Ek wil nie soseer as ’n predikant bekend staan nie, eerder as ’n dissipel van die liefde. My storie moet ’n storie van liefde wees.”
Here, laat my nalatenskap liefde wees. Amen.