Almal is op pad na dieselfde plek toe, almal is van stof en almal word weer stof (Prediker 3:20).
Vroeër vanjaar het ek die voorreg gehad om die grootste begraafpark in die wêreld te besoek.
‘n Duitse vriendin wat betrokke is by die begeleiding van gestorwenes se families, neem my na hierdie indrukwekkende park in Ohlsdorf, ‘n woonbuurt in die noorde van die Duitse stad, Hamburg.
Sy kom dikwels daar om dienste in een van die park – wat terloops sewe kilometers lank strek! – se vele kapelle te hou.
Ons besoek word ‘n vreemde, maar meesleurende ervaring. Dit is trouens nie elke dag dat jy ‘n lowergroen park met duisende grafte en kapelle met kruike vol as van gestorwenes – sommige so ver terug as die agtiende eeu – besoek nie.
Ek word weer eens getref deur die broosheid en kortstondigheid van ons lewe. Ook dat die lewe, selfs waar dit onverwags kort geknip was, oneindig kosbaar en ryk kan bly.
Hieraan moet ons dink wanneer ons eerskomende Sondag in ons kerke daardie ontslapenes herdenk wat ons lewe ten goede beïnvloed en gevorm het, hetsy naby familie, vriende, kleurryke leiers of ander gewone gelowiges.
Kom ons steek Sondag met liefde en dankbaarheid ‘n kers vir hulle aan.
Here, ons dink vandag aan al ons geliefdes wat ons ontval het, sommige gans te gou. Dankie vir hulle lewe. Dankie vir alles wat hulle gedoen het om ons lewe te verryk en ten goede te beïnvloed. Amen
Carel Anthonissen