… as jy die heilige dag van die Here in ere hou, as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie te doen net wat jy wil nie, en nie handel dryf nie, sal jy vreugde vind in die Here (Jesaja 58:13-14).
‘n Verdere gevaar wat, aldus Jesaja 58, die betekenis van die Sabbat bedreig het, was wat ‘n mens “misplaaste vryheid” kan noem.
Hierdie vryheid het daartoe gelei dat die volk van God die Sabbat soos enige ander dag beleef en ingerig het. Hulle het op dié dag hulle gewone gang gegaan, handel gedryf en gedoen net wat hulle wou (Jes 58:13-14).
Só het hulle God se bedoeling met die Sabbat geïgnoreer en, sonder dat hulle dit goed besef het, hulleself benadeel. Selfs laat beroof van ‘n dieper rus en vreugde.
Dié gedeelte laat ‘n mens skrik. Ruk ook ‘n paar maskers af.
Want is Israel se sonde van destyds nie ook óns sonde nie? Dat die Sondag vir ons soos enige ander dag geword het? Ons vind dit wel aangenaam dat ons week op dié manier onderbreek word. Maar dan gebruik ons die onderbreking om ons eie ding te doen. Of onkrities in te val by die patrone, waardes en voorskrifte van ons samelewing.
En só mis ons God se bedoeling met die dag en met ons samelewing.
Here, op hoeveel maniere het ons nie in- en vasgegroei aan die selfsugtige waardes van ons samelewing nie. Vergewe ons ons misplaaste vryheid en kortsigtigheid en leer ons wat dit beteken om in U te rus. Amen
Carel Anthonissen

