Al is ons uiterlik besig om te vergaan,
innerlik word ons van dag tot dag vernuwe (2 Korinthiërs 4:16).
Onlangs, tydens ’n gesprek met ‘n Anglikaanse kollega – iemand wat diep gedrenk is in die kontemplatiewe tradisie met sy fokus op stilte en afsondering – maak hy ‘n opmerking wat my diep raak.
Hy noem dat hy nou ‘n punt in sy geestelike lewe bereik het waar hy diep in homself ‘n onaantasbare kern gewaar – ‘n innerlike wete en oortuiging dat wat ook al met hom gebeur, hy dit sal kan hanteer, weerstaan en oorleef.
Daar is nie baie mense wat dit só prontuit en vrymoedig kan sê nie. Die meeste van ons, selfs dié wat hulleself Christene noem, is diep in onsself maar baie onseker, broos, verleibaar en labiel. Sodat enige onverwagse gebeure of slegte nuus, ons totaal kan ontwrig en van balans stoot.
En tog: Is dit nie presíés die punt waarheen die evangelie ons wil lei nie? Is dit nie die waarmerk van ‘n geloof wat tot volle bloei en wasdom gekom het nie?
Dat ons soos Paulus – en ook my vriend – mettertyd met oormoed sal kan uitroep: “Laat hulle maar kom, lyding of benoudheid, vervolging of honger, naaktheid of gevaar, niks sal my skei van die liefde van God nie. Dié wete staan vas – onaantasbaar, onbeweeglik, sterk, troosvol” (Rom 8:35-39).
Op ‘n ander plek druk Paulus hierdie gevoel van geborgenheid, van onaantasbare vrede en sekerheid, só uit: Al is hy uiterlik besig om te vergaan, hy word elke dag innerlik vernuwe en versterk (2 Kor 4:16).
Die geheim – en dit verklap hy in dieselfde hoofstuk – lê daarin dat hy sy oog gedurig op die onsigbare hou, ja, op daardie God wat in Christus die magte oorwin het en nou met sy Gees en krag in ons werk (2 Kor 4:18, 5:1,5).
Om dít te weet en te ervaar, het ons inderdaad baie stilte en afsondering nodig.
O Here, lei ons vandag opnuut deur u Gees na daardie punt waar ons met oormoed kan bely: “Nou weet ek verseker …”