Hulle maak Hom toe wakker en sê vir Hom: “Meneer, gee U dan nie om dat ons vergaan nie?” (Markus 4:38).
Een van die verhale in die Bybel waar vrae ‘n belangrike leidraad tot die boodskap vorm, is die verhaal wat oor die storm op die see handel (Mk 4:25-31).
Wanneer die dissipels een nag in ‘n hewige storm beland, en dan met skok ontdek dat Jesus slaap, hoor ons reeds die eerste vraag: “Meneer, gee U dan nie om dat ons vergaan nie?”
Moenie ‘n fout maak nie: Hierdie is geen versigtige of neutrale vraag nie.
Dit is eerder ‘n verwyt, ‘n openlike beskuldiging van mense wat alles prys gegee het om Jesus te volg. Mense vol verwagting, wat met reg daarop gereken het dat Hy as hulle Heer en Meester in tye van nood vir hulle sou sorg. Hulle ook teen die gevaar van onheil en ondergang sou beskerm.
Maar nou, terwyl die see dreig om hulle te oorweldig, kom die ontnugtering: Jesus slaap, en hulle moet veg vir hulle lewe. Hy slaap asof Hy nie regtig omgee nie. Asof Hy – en dit is die moderne vorm van hierdie vraag – nie eers dáár is om te sorg nie. Ja, net sowel dood kon wees, soos die filosoof Nietzsche oor God beweer het.
Wie eerlik omgaan met die geloof, sal in tye van nood waarskynlik verplig wees om hierdie vraag óók in die oë te kyk.
En dit is góéd so, want geloof kom nie altyd maklik nie.
Ja, Here, laat ek maar erken: Party dae wonder ek oor U. Wonder ek of U regtig omgee en bestaan. Want kyk hoe lyk ons wêreld. Ten minste kan ek my frustrasie vandag teenoor U uitspreek. Hoor tog my vraag. Hoor my gebed. Amen.
Carel Anthonissen