“Die wysheid kom eerste. Sorg dat jy wysheid bekom, gee alles wat jy het om insig te kry! Slaan dit hoog aan, dan sal dit aan jou aansien gee. Dit sal jou ’n man van betekenis maak as jy dit vasgryp. Dit sal jou lewe versier, dit sal vir jou ’n sierlike kroon wees” – Spreuke 4:7-9.
Die Griekse en Latynse woorde vir “kroon” kan ook met “krans” vertaal word. Wanneer soldate van die oorlogsfront af teruggekeer het, is daar lourierkranse om hul nekke gehang om hul oorwinning te vier. Krone is ook met konings verbind. Dit het roem, majesteit en heerskappy verteenwoordig. Vir vroeë Christene was die kroon die simbool van Christus se Koningskap.
God kroon ons met sy goedheid en guns. Met Homself. Hy sit die kroon op ons kop en seën ons. As monarge. Erfgename. Saam daarmee kom egter ook verantwoordelikheid. Hy wil hê dat ons sy seën na ander aangee. Ons moet van sy goedheid vertel en, meer nog, ook sy goedheid lééf. Want ons is Koningskinders. En seën is ons erfporsie wat ons vryelik moet uitdeel.
Salomo stel wysheid, ’n sierlike kroon, aan koninklike majesteit gelyk. ’n Wyse man of vrou verdien respek. So iemand se voorbeeld kan sonder aarseling gevolg word. Ons moet begeer om ook daardie wysheid te verkry en wysheid as sierkroon te ontvang.
Here, dankie dat U my wil kroon met wysheid. Ek wil so lewe dat ek die kroon waardig is. Skenk my u genade om dit te kan doen. Amen.