Die Here sal jou seën en jou behoed; die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees; die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee – Numeri 6:24-26 (1933/1953-vertaling).
Tydens ’n groot koor-en-orkesuitvoering omsirkel ’n deel van die koor die groot ouditoriumruimte terwyl ’n groep koorlede op die verhoog bly staan. Die lied wat opklink, omvou die aanwesiges: ’n rondomrond-klank van seën en vrede en die belofte dat Christus oor alles en almal regeer. Sy liefde en vrede is allesinsluitend.
Soms kom daar oomblikke verby wanneer honderde mense gelyktydig deur dieselfde ervaring geroer word. By hierdie geleentheid was musiek die instrument waardeur versoening, vrede én seën oor al die aanwesiges uitgestort is. ’n Middag lank het dit nie saak gemaak wie jy is of waar jy vandaan kom of wat jou omstandighede is nie. Jy kon die samebindende krag en heling ervaar wat musiek bring.
Op so ’n middag ervaar ’n mens iets van die belofte in die teksvers hierbo. Jy voel die gloed en aanraking van die Here wat sy aangesig oor jou laat skyn en sy vrede aan jou gee. Wanneer jy dit ervaar en die belofte jou eie maak, kan jy as enkeling vol hoop uitstap – die wêreld in – en die vrede verder uitdra.
Here, baie dankie vir geleenthede wat ons bewus maak van die vrede waarmee U ons omsirkel. Help my om dit uit te dra, oral waar ek gaan of vertoef. Amen.