Liewer net ’n bietjie groente en liefde daarby as ’n vetgemaakte os en haat daarby – Spreuke 15:17.
Ons almal het al fliektoneeltjies gesien waar deftig geklede mense met stroewe gesigte by ’n lang formeel gedekte tafel aansit, met net die geklik van messegoed op porselein hoorbaar.
’n Akademikus aan een van ons universiteite vertel van hul gesellige kleintydkuiers rondom die kombuistafel met ’n eenvoudige sny roosterbrood, ’n glas melk, turksvye en mieliepap-aanbrandsels.
“Die ete het sy loop geneem. Niks of niemand kon dit aanjaag nie. Ons saameet het daardie heilige oomblikke van gemeenskap met geliefdes geskep.”
Anna Fishel, professor in sielkunde aan die Harvard Medical School, skryf dat kinders wat daagliks saam met hul ouers aan tafel eet gewoonlik minder angs ervaar en ’n beter verhouding met hul ouers het. Hierdie daaglikse etenstyd-konneksie is soos ’n veiligheidsgordel op die kinder- en tienerpad vol slaggate. Wangedrag van kinders is dikwels daaraan te wyte dat daar nie tuis ’n “kombuistafelkultuur” was nie.
Dit is egter glad nie te sê dat voorspoed en ’n oorvloed kos die afwesigheid van onderlinge liefde beteken nie. Daarenteen waarborg eenvoudige maaltye ook nie geluk en goeie verhoudings binne ’n gesin nie.
Die belangrikste is dat elke gesin sal besef tye rondom ’n etenstafel skep onvervangbare geleenthede vir kinders en ouers om mekaar se teenwoordigheid te koester.
Rondom die gesinstafel word wysheid beleef en aangegee. En saam daarmee geloof. Die kinders kom onbewustelik tot die besef: Só tree kinders van die Here in gewone elkedagse omstandighede op.
Here, leer ons as gesinne hoe belangrik goeie verhoudings is. Amen.