Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd: ’n tyd om te huil, ’n tyd om te lag, ’n tyd om te treur, ’n tyd om van blydskap te dans – Prediker 3:1, 4.
“Daar is ’n tyd vir alles,” sê die Prediker. So ook vir afsondering en rou. Indien jy nie dán jou rouste emosies in die oë kyk nie, sleep jy ’n ondraaglike las met jou saam. Die pyn gaan nie weg as jy dit ignoreer of jou dae met ander dinge vul nie. Dit gaan lê net ál dieper en swaarder in jou wese.
Daar is geen ontsnaproete of kortpaaie as jy treur nie. Jy moet die pad stap – enduit. As jy êrens kortpad vat, gaan jy maar net met ’n ompad terugkom op die treurpad. Daar is geen roetekaart vir treur nie, want treur strek nie van punt A na punt B en dan het jy aangekom nie. Rou is nié stappe wat jy moet deurwerk en dan is dit afgehandel nie. Rou is eerder ’n proses wat soos die branders van die see aanhou uitspoel en weer terugtrek. Partykeer dink jy dat jy nou ’n bepaalde herinnering verwerk het, net om weer deur dieselfde brander omgeklits te word.
Indien jy nie jou intense routyd gebruik vir nuwe insig en verdieping nie, sleep jy jouself maar net uitsigloos voort en hoop dit sal eendag beter gaan. Routyd en die stilte en nadink wat daarmee saamloop, is onontbeerlik om weer regop te kan staan op jou klein kolletjie aarde.
Here, U sê self dat daar ’n tyd is om te treur. Gee ons die insig om dié tyd reg te gebruik. Amen.