Toe vra Hy vir my: “Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe kom?” (Esegiël 37:3).
Esegiël 37:1-14 verkondig die boodskap van Paasfees op ʼn beeldryke manier. Terselfdertyd adem dit die gees van Pinkster.
Dié gedeelte open met ʼn somber toneel.
Die profeet bevind hom in ʼn dodeakker vol geraamtes. Dit is die beeld van ʼn volk wie se sondes hulle ingehaal het, wat nou die wrang vrugte van hulle vele onregte, korrupsie en onverskilligheid pluk – ʼn gevange nasie (captured nation) wat hulle identiteit en roeping verloor het.
Erger nog, dit is ʼn volk wat innerlik verlam is. Wat wonder of daar nog ʼn toekoms is. ʼn Volk wat magteloos en wanhopig kla: “Ons bene is uitgedroog, ons het geen hoop meer nie, dit is klaar met ons” (v 11).
In hierdie omstandighede stel God dié geweldige vraag aan die profeet: “Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe kom?” Of anders gestel: “Dink jy daar is ʼn kans op herstel?”
Herken jy dié vraag? Sien jy dat dit die vraag na geloof is? Die vraag of ek en jy nog enigsins vertrou dat wonderwerke kan gebeur. Dat God nuwe lewe kan gee waar daar nou net doodsbeendere en grafte is. In ons land, in jou lewe.
Die tyd ná Paasfees daag ons uit om weer biddend met dié vraag besig te raak.
Here, hoe klein is ons geloof tog. Kom, Here. Help ons om U al meer te vertrou, om te glo dat U ons grafte kan oopmaak. Amen.
Carel Anthonissen