Hulle het vir niemand anders iets daarvan gesê nie, want hulle was bang (Markus 16:8).
Markus 16:1-8 het ‘n vreemde einde.
Nadat die evangelis met erns en in groot detail beskryf het hoe spesifieke vroue die eerste getuies van Jesus se opstanding was, eindig hy nou sy verhaal met die verrassende opmerking dat hulle skielik in stilswye verval het – ja, dat hulle in weerwil van die boodskapper by die graf se opdrag, hulleself nie sover kon bring om die dissipels en ander daarvan te vertel nie.
En die rede daarvoor? Omdat, so vertel Markus ons, hulle skielik totaal verskrik, onseker en bang geword het.
So leef hulle iets voor van die twyfel en onsekerheid ten opsigte van die opstanding van Jesus wat diep in ons eie harte as moderne mense skuil. En wat maak dat ons, in die woorde van een kommentator, ook net soos die vroue vandag bang is om daaroor te praat.
Bang is mense lag vir ons. Bang is hulle dink ons is naïef en oningelig oor hoe die wêreld regtig inmekaar steek.
Vir ons is dit nodig om nog eens soos die vroue te hoor: “Moenie skrik nie! … Julle soek Jesus van Nasaret wat gekruisig is. Hy is uit die dood opgewek. Hy is nie hier nie … Maar gaan sê vir sy dissipels … Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien soos Hy vir julle gesê het.”
Ook om hierdie woorde opnuut te leer glo en vir onsself toe te eien.
O Here, vergewe ons dat ons steeds aan u opstanding twyfel en bang is om daaroor te getuig. Gee ons asseblief méér geloof. Amen
Carel Anthonissen