Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen (Handelinge 2:4).
In die klassieke Pinksterverhaal opgeteken in Handelinge 2:1-13, is daar ‘n paar belangrike dinge wat opval.
Die eerste is die kontras tussen ‘n klein skare mense wat op daardie stadium onseker en selfs verward gewag het op iets wat hulle nie kon peil nie. Byna soos die dissipels kort ná Jesus se opstanding, toe hulle uit vrees hulleself afgesonder het.
En dan, só lees ons in Handelinge 2, die uitstorting van die Heilige Gees met ‘n soort geweld en effek wat die skare totaal verras en uit die veld geslaan het.
Wat sê dit alles vir ons?
Dít naamlik, dat Pinkster ‘n totaal nuwe daad van God ingelui het. Een waardeur mense oornag uit ou groewe en angste gelig is om voortaan met nuwe hoop en entoesiasme, ja, selfs met ‘n nuwe roeping te gaan leef.
Maar dit is presies wat gebeur wanneer die Gees in ons werksaam word. Oftewel, wanneer ons die Gees kans gee om in ons te woon en te werk.
Ons lewe word oornag met nuwe, interessante en selfs ingrypende moontlikhede gevul. Ook word dit dan duidelik dat niks meer dieselfde kan of mag bly nie.
Kom, Skepper Gees, verander ons lewe. Verras ons met u krag. Skep in ons ‘n nuwe hart vol hoop en blydskap. Amen
Carel Anthonissen