Ek sê: “U liefde en u trou wankel nooit, dit hou vir altyd stand in hemel en op aarde” – Psalm 89:3.
God is getrou. Hy is ewig. Onwankelbaar. Rotsvas. Hy doen wat Hy belowe het, anders as ons mense wat vandag iets belowe en môre daarvan vergeet, of dit ignoreer. God is vandag steeds Jahwe, die onveranderlike Ek is.
Net by Hom, die altyd-getroue, kan ons leer hoe om op alle vlakke van ons lewe werklik getrou te wees: tuis, in ons geloofslewe, ons verhoudings, ons werk en in die gemeenskap.
Getrouheid is nié iets wat ek beoefen slegs wanneer dit my pas nie. Dit moet my lewe kenmerk en nie ’n bykomstigheid wees wat van my omstandighede afhang nie.
Wanneer Dawid vra wie die reg het om op God se heilige berg te vertoef, kom die antwoord in Psalm 15:2: “Hy wat onberispelik wandel en doen wat reg is, wat met sy hele hart die waarheid praat.” ’n Betroubare mens bly by dít wat hy belowe het. Hy gaan nie terug op sy woord nie, al is dit tot sy eie nadeel.
Dit is onmoontlik om dit uit ons eie krag reg te kry. Ons moet aan God vashou. In 1 Tessalonisense 5:24 skryf Paulus: “Hy sal dit ook doen, want Hy wat julle roep, is getrou.” Ons mag Hom maar glo, want Hy is getrou. Hebreërs 10:23 sluit daarby aan: “Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het.” Hy sál ons volkome toerus. Dit is ’n vaste belofte.
Here, wanneer ek twyfel en hoop verloor, klou ek vas aan U, die Groot Getroue. Amen.