“Die begin van wysheid is: Verwerf wysheid, verwerf insig met alles wat jy besit! Stel haar hoog op prys, dan sal sy jou verhoog; sy sal aan jou eer gee as jy haar omarm. Sy sal op jou kop ’n swierige krans sit, ’n sierlike kroon aan jou skenk” – Spreuke 4:7-9 (2020-vertaling).
Spreuke is nie ’n versameling eenvoudige reëls wat ’n gelukkige lewe vir die leser verseker nie. Ons moet die hele Spreukeboek in konteks lees om te kan begryp watter ryk waarhede daarin versteek is. Daar is verskuilde betekenislae in die eenvoudigste stellings. Wat ons as ’n weerspreking ervaar, is waarskynlik net ’n klein deeltjie van ’n groot waarheid.
Wysheid gee jou nie áltyd aansien en eer, soos hierbo belowe word nie. Dit gaan nie áltyd voorspoedig met die regverdige of áltyd sleg met die dwaas nie. Die vrug van wysheid is nie áltyd sigbaar nie. ’n Wyse man word nie áltyd raakgesien of gereken nie. Soms besef mense eers heelwat later wat die waarde van ’n wyse man se optrede was.
In Prediker 9:14 word vertel van ’n stadjie met min mense wat deur ’n magtige koning ingeneem is. Vers 15 lui: “In die stad was ’n arm man met baie wysheid, en hy het die stad deur sy wysheid gered. Maar niemand het die arm man onthou nie.”
Ten spyte daarvan dat wysheid nie altyd kitsresultate of antwoorde, of selfs beloning verseker nie, word ons aangemoedig om dit na te jaag – meer as enige skat.
Wanneer ons ware wysheid ons eie maak, is dit soos ’n sierlike kroon op ons kop.
Here, laat ek my met u wysheid beklee sónder om ’n beloning te verwag. Amen.