Boodskap vir Vandag

Search

Nog ’n bietjie!

En die volharding moet enduit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming – Jakobus 1:4.

Wat in ons alledaagse lewe geld, geld ook vir ons Christenskap. Daarom moedig Jakobus ons aan om te volhard tot die einde toe.

Daar word ’n verhaaltjie vertel van ’n slak wat een wintersoggend teen die stam van ’n appelboom begin opseil. ’n Wurm loer deur ’n gaatjie in die bas en sê vir hom: “Daar is geen appels daarbo nie.” Die slak antwoord: “Dit maak nie saak nie. Teen die tyd dat ek bo kom, sal daar appels wees.”

Hierdie fabel vat die kern van volharding saam: Ons moet aanhou, al is die einddoel nie in sig nie.

’n Mens se eie ingesteldheid bepaal in ’n groot mate die eindresultaat. Wanneer jy vooraf besluit dat iets onoorkomelik is, dan ís dit onoorkomelik. Dan misluk jy nog voordat jy begin. Om te volhard beteken dat ons nie moedeloos moet word nie. Wanneer ’n marathonatleet rus totdat hy weer genoeg asem het, word sy spiere styf en sukkel hy om weer aan die gang te kom.

Ons raak dikwels in ons eie omstandighede vasgevang en bejammer onsself. Ons vergeet dat Christus by ons is. In Romeine 15 skryf Paulus dat Christus die bron van alle standvastigheid en bemoediging is. Hy het reeds die wedloop gehardloop en voltooi. Hy ken die uitdagings langs die pad. Ons hoef nie alleen voort te strompel nie. Hy steek sy hand na ons uit. Hy wil ons op help en weer krag en moed gee. Ons moet opkyk en sy hand vasgryp.

Here Jesus, ons rig ons gedagtes op U, die Voleinder van ons geloof. Amen.

No data was found

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.

Steek ’n kers aan

Laat jou gebed ’n liggie wees in die donker
Jou Naam *
Vir wie is hierdie kers *
Wat is jou gebedsversoek? *
Mag ander saam met jou bid? *
Laat weet ons of jy dit wil deel sodat ander saam kan bid.
Kies 'n gebed