Gebruik jou tong as instrument

Lees 1 Korintiërs 14:22-25.

As almal profeteer, en daar kom ’n ongelowige of ’n buitestaander binne, dan word hy deur almal in sy gewete aangespreek en kom hy tot selfondersoek (v 24).

Die belangrikste gawe volgens Paulus is dié van opbou. Opbou vind plaas wanneer jy profeties inspreek in die lewe van ander. Paulus sê dat ons ons veral moet beywer om hierdie gawe te gebruik. Hier volg ’n paar riglyne om die gawe van opbou in jou eie lewe te slyp:

1. Ken die Bybel en praat gereeld met ander daaroor. Moenie oor jouself praat nie. Laat God deur jou aan die woord kom. Verdwyn agter God se Woord. Dit help nie jy sê dat die Bybel God se Woord is, maar jy ken dit nie. Hoe kan die Gees dan die Bybel as ’n aanvals- en verdedigingswapen in jou hande los? Dan sal jy mos nie weet hoe om hierdie skerp Swaard reg te hanteer nie!

2. Moenie skaam of bang wees om oor God te praat nie. Onthou: Al bewe jou knieë – die Rots waarop jy staan, bewe nooit.

3. Vermaan ander gelowiges om nie heeltyd onder mekaar of met ander mense buite die kerk te stry nie.

4. Help mense reg wat verkeerde dinge kwytraak en praat ander moed in.

Sorg dat jy ’n bron van hoop en krag is vir ander. Voed jouself met die lewende Woord van God. Leef hieruit en voorsien ander gelowiges met die nodige geestelike voedsel uit die Bybel.

Here, skerp my geestelike gawes op.

Stephan Joubert

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.