
My werk, my rentmeesterskap
“Toe kom die een met die twee goue muntstukke en sê: ‘Meneer, twee goue muntstukke het u aan my toevertrou. Hier is dit met twee ander wat ek wins gemaak het.’ Sy eienaar sê toe vir hom: ‘Mooi so! Jy is ’n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!’” – Matteus 25:22-23.
Ek gesels oor die toonbank met die eienaar van ’n klein plattelandse slaghuis.
“Die Heilige Gees bestuur ons slaghuis. Ons is slegs sy rentmeesters,” sê hy.
“Ons pa was streng maar regverdig. Ons ma het weer die huis met liefde bestuur. En dit is hoe ons die familieslaghuis wil bedryf. Elkeen moet weet hy of sy word liefgehê en gerespekteer. Ons sien na die volledige mens om.”
Wintertye sorg hy dat nie een van sy werkers koud gaan slaap nie. Wanneer ’n werknemer se kind trou of na ’n matriekafskeid gaan, gee een van die familiekinders ’n rok, een bestuur die motor en hulle sorg vir die neem van professionele foto’s. Die mense in hul sorg se menswaardigheid is hul hoogste prioriteit.
“Wat maak julle in tye van probleme of terugslae?” vra ek.
“Ek bid,” antwoord hy. “Ek bestuur my slaghuis van die rand van my bed af.”
Dit is ’n getroue rentmeester wat hier praat. Dít wat hy ontvang het, gee hy met rente aan God terug. Hy doen dit biddend en afhanklik. Sy werkplek is sy diensterrein.
Here, ek wil U biddend dien. Maak my ’n getroue rentmeester wat nie bang sal wees wanneer U rekenskap van my eis nie. Amen.