Verder, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, wat reg is, wat rein is, wat lieflik is, wat lof verdien, ja, watter deug of watter prysenswaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig (Filippense 4:8, Direkte Vertaling).
Elke nuwe jaar het sy unieke uitdagings, soos ons almal goed weet.
Wat 2018 betref, het ek reeds vir my ʼn paar belangrike voornemens neergeskryf. Die een is om in hierdie nuwe jaar met minder woede en meer geduld te leef.
Onlangs loop ek ʼn jong joernalis-vriend raak wat hieroor – die woede en ontsteltenis waarmee baie van ons leef – ʼn interessante studie gedoen het.
Synde ʼn ervare joernalis het hy begin agterkom dat koerante met hulle beriggewing, hetsy oor misdaad of ons leiers se korrupte optrede, elke dag hierdie woede by mense opwek en aanwakker. In so ʼn mate dat hulle daaglikse stemming die hele tyd by die spreekwoordelike kookpunt draai.
Om só te leef en toe te laat dat die koerante jou in ʼn voortdurend negatiewe en siniese gemoedstemming gevange hou, is – om die minste te sê – ongesond en onproduktief.
As gelowiges is ons beslis tot meer geroep, ja, tot iets beter. Miskien moet ons soms ʼn bietjie verder weg gaan staan of selfs vas van enige sensasionele en negatiewe beriggewing. Of ons kan by Paulus se versoek inval wanneer hy ons oproep:
Verder, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, wat reg is, wat rein is, wat lieflik is, wat lof verdien, ja, watter deug of watter prysenswaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig (Filippense 4:8).
Here, bedwing my woede en leer my vanjaar om my gedagtes meer te rig op alles wat positief en opbouend is. Amen.
Carel Anthonissen