As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg (Markus 8:34).
Wat dit beteken om Jesus op sy kruisweg te volg, beskryf Eugene Peterson op ‘n oorspronklike en aangrypende wyse in sy boek “Subversive Spirituality”.
Hy praat in dié verband van die asketiese opsie wat tesame met die estetiese dimensie – waar ons die skoonheid van Jesus kan geniet (Mk 9:2-3) – die egte geestelike lewe verteenwoordig.
Om asketies te leer leef, behels die vermoë om néé te sê, om in navolging van Jesus, nie jou eie natuurlike impulse en behoeftes, jou selfgesentreerde drome en ambisies blindweg te volg nie. Dit is om nie die slaaf te word van ‘n kultuur waar gierigheid en genot, mag en swier ons lewe heeltyd domineer en uithol nie.
Trouens, om op die voetspoor van Jesus afstand te neem van die dikwels twyfelagtige waardes en weë wat die samelewing bied. Aldus Peterson is dit juis die toegang tot egte vryheid.
In Peterson se woorde: “The art of saying no sets us free to follow Christ … Ascetic practice sweeps out the clutter of the god-pretentious self, so there is ample space for Father, Son and Holy Spirit; it embraces and prepares for a kind of death that the culture knows nothing about, so that there is room for the dance of resurrection.”
Om die lydende Jesus te volg, is dus om te leer om op die graf van jou nare, selfsugtige en minder egte self te dans.
O Here, leer ons daardie heilsame prysgawe van ons eie selfsugtige ambisies sodat ons waarlik vry kan word. Amen
Carel Anthonissen