Maar die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: “Waar is jy?” (Genesis 3:9).
Wie dieper die misterie van God se liefde binnegelei word, hulleself daarheen draai, kom op verrassende maniere by hulleself tuis.
Hulle ontdek dat nie net alles rondom hulle heilig en kosbaar is nie, maar ook dat hulle eie lewe en geskiedenis méér werd is as wat hulle self dikwels dink of voel. Trouens, aangeraak deur die goddelike liefde, begin hulle hulleself ook meer waardeer en liefkry.
Hulle begin, soos iemand dit half komies uitgedruk het, “hand om die lyf met hulleself staan”.
Kom ons sê dit weer: Daar is min dinge belangriker wat met ons in die lewe kan gebeur. Daarsonder taan ons selfvertroue en sukkel ons om oop en sinvol met ander in verhouding te tree.
Om egter die goddelike vonk in ons lewe te ontdek en te ontsluit en só ‘n gesonde selfliefde en selfbeeld te ontwikkel, is nie altyd maklik nie. Veral nie wanneer ons lewe met allerlei onaangename ervarings en slegte herinnerings belas bly nie. Soos daardie vroue wat onlangs tydens ‘n werksessie oor geslagsgelykheid met trane vertel het hoe hulle kleintyd verkrag is, of vir lang tye deur hulle mans mishandel is.
Die laste in ons lewe hoef nie altyd só dramaties te wees nie. Eenvoudig die afwesigheid van liefde in ons ouerhuis, ‘n egskeiding wat ons lewe van balans stoot, die harde woorde van ‘n ongeduldige pa, baas of medemens of ons eie dom keuses, kan ons selfvertroue knou.
In sulke omstandighede kom ons gewig en waardigheid as mens onder druk en raak dit moeilik om te glo dat ons iets werd is. Soos Adam en Eva in hulle verlore paradys oorval die skaamte ons dan dikwels en begin ons op baie maniere wegkruip en onsself teen ander mense verskans.
Dan bly die uitdaging om te glo dat God, net soos destyds met Adam en Eva, ons nooit los nie – ja, ons vandag weer opsoek met dié woorde: “Waar is jy?” (Genesis 3:9).
Wie daagliks op hierdie roepstem reageer, mag – gouer as wat hulle miskien gedink het – ontdek dat hulle met nuwe liefde en vergifnis oorklee word. En dat hulle maar mag tuiskom by hulle egte en meer kosbare self.
Here, ons draai nou in geloof na U – U wat ons liefhet, ondanks ons verlede, ondanks hoe ons nóú oor onsself voel. Amen
Carel Anthonissen