Die fondament is Jesus Christus. Of dit goud, silwer, edelstene, hout, gras of strooi is waarmee iemand op die fondament bou, elkeen se werk sal aan die lig kom – 1 Korintiërs 3:11b-13a.
Toe ons seuns nog onder ons dak was, moes hulle dikwels vir sakgeld werkies in en om die huis doen. Verfwerk was deel van ’n vakansie-opdrag. Eers is die skuurpapier, onderlaag, verf, kwaste en skoonmaakmiddels op die werksbank uitgepak. Niemand kon aanvoer dat hy nie geweet het wat die verfwerk behels nie.
Soms was die manne egter haastig. Dán is kortpaadjies gevat. Die dele waar die roesmerke nie duidelik was nie, is nie geskuur nie. En wanneer pa nie gekyk het nie, is daar sommer direk oor die vorige verflaag geverf, sonder om eers ’n onderlaag op te sit. Natuurlik kon die skuldiges ’n kort rukkie daarmee wegkom. Dit was egter nie lank nie, of die verf begin afdop en die staalpyp begin weer roes.
In Dallas Willard se boek The spirit of the disciplines skryf hy dat Christene in voortdurende spanning leef tussen wat hulle wéét hulle behoort te wees, wat hulle dínk hulle kan wees en wat hulle werklik is. Hy sê: “Ons weet ons moet soos Christus leef, maar ons sien dit as iets onmoontliks en daarom probeer ons nie eens nie.”
Ons kan nie ons verantwoordelikheid ontduik nie. Henry David Thoreau skryf: “Thus men will lie on their backs, talking about the fall of man, and never make an effort to get up.”
Daar is geen kortpaadjies nie. Gebed is die onderlaag en Christus die fondament van ons geestelike huis. Daarsonder gaan alles tot niet.
Here, maak my getrou. Amen.