Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees! – Romeine 15:13.
In ons brose aardsheid gee God soms vir ons klein sigbare, tasbare bewyse dat Hy wel dáár is. Hy hoef dit nie te doen nie, maar Hy weet ons het hierdie simbole nodig. Dit versterk ons hoop. Dit is tekens van God se bemoeienis met ons. Ons geloof mag egter nie by simbole staan of val nie.
Ek kyk weer na Philippe Wojazer se foto van die Notre Dame pas ná die vernietigende brand wat die eeue oue katedraal feitlik in puin gelê het. Op die foto hang roet en stof in die lug. Die meubels is swart gebrand, met rommel oral. Maar bokant al die verwoesting en donkerte troon die goue kruis agter die altaar uit – al stukkie kleur in die grys donkerte wat alles omhul.
Die goue kruis word ’n helder simbool daarvan dat daar, ondanks die donkerte en puin en roet van ons lewe, steeds hoop is. Dit is ’n hoop wat niks of niemand kan vernietig nie. Geen duisternis kan die glans daarvan verdof nie. Wanneer alles vir ons uitsigloos lyk, is Christus se kruis al lig wat oorbly. Dit herinner ons daaraan dat God ons so liefgehad het dat Hy sy enigste Seun vir ons gegee het sodat ons nie verlore sal gaan nie.
Mense se lewensduur is kortstondig soos dié van gras. Dit sou dwaas wees om ons hoop op hulle te vestig.
Christus is ons hoop.
Dankie vir die vaste wete: U is my enigste ware hoop. Amen.