So sê die Here my God: “Omdat jy My vergeet het en jou rug vir My gedraai het,
sal jy die straf vir jou aanstootlike gedrag en jou onsedelikheid dra” (Esegiël 23:35).
Dwaasheid is nie net ‘n individuele kwaal nie – dit is ook ‘n kollektiewe sonde.
Dit bestaan daarin dat ‘n hele samelewing of geslag op ‘n stadium só blind en eenogig kan raak dat hulle die verlede vergeet of ignoreer.
En só die foute en misstappe en die dwaashede van gister herhaal, nie werklik erns daarmee maak om uit die geskiedenis te leer en beter te doen as ‘n vorige geslag nie.
Presies dit het met Israel in ‘n tyd van afval en ongeloof gebeur. Hulle het God se geskiedenis, sy moeite en weë met hulle vergeet (Eseg 22:12, 23:35).
Die afgelope week herinner ‘n vriendin my weer aan hierdie tragiese soort dwaasheid toe sy die volgende kommentaar in Engels aan my stuur.
“The budget should be balanced, the treasury should be refilled, public debt should be reduced, the arrogance of officialdom should be tempered and controlled, and the assistance to foreign lands should be curtailed, lest Rome will become bankrupt.
People must again learn to work instead of living on public assistance.”
Jy het reg geraai! Die woorde is nie dié van ‘n hedendaagse politieke kommentator nie. Die Romeinse filosoof en politikus, Cicero, het dit reeds vyf en vyftig jaar vóór Christus oor die samelewing waarin hý geleef het, kwytgeraak.
Merkwaardig!
Dit is geen wonder nie dat die vriendin haar briefie met dié ietwat siniese opmerking afsluit: “Dit is duidelik: Ons het min of meer níks oor die afgelope twee duisend nege en sestig jaar geleer nie.”
Sjoe!
Here, vergewe ons ons kort geheues as individue en ook as burgers van dié land. Laat ons tog nie die belangrike lesse van die geskiedenis vergeet nie. Wys en leer ons veral hoe U werk en wat U van ons verwag. Amen
Carel Anthonissen