Daarna het Hy die mense huis toe gestuur, in die skuit geklim en na die gebied van Magadan vertrek – Matteus 15:39.
Vir die meeste mense staan hul rekenaar vandag sentraal in hul lewe. Dit bepaal grootliks hul dagroetine. Daarom lei dit tot groot frustrasie wanneer iets met die rekenaar skeefloop.
Ek weet nie hoe dit gebeur nie, maar mettertyd raak die rekenaarkabels – wat eers so netjies van muurprop na battery, na rekenaar, na skandeerder, na drukker, selfs na selfoon en staanlamp geloop het – ’n vervlegte deurmekaarspul.
Die enigste uitweg is om onder die rekenaarblad in te kruip en die hoofkragbron af te skakel. Dan begin ek die een ná die ander koord uit die bondel losknoop totdat almal netjies in ’n ry voor my lê. Ek merk elkeen met ’n wit plakker en prop hulle weer versigtig in.
Ons lewe is dikwels ’n verknoopte klomp drade. Almal is vas aan ons Hoofbron, Jesus Christus, maar ons bly gefrustreerd. Ons weet nie waar om te vat of te los nie. Ons voel onmagtig, want ons kontaklyne na Hom toe is nie netjies gespoor nie. Ons prioriteite raak deurmekaar. Dan word dit tyd om al die kragproppe uit te trek en opnuut te besin.
Soms moet ons midde-in ’n uitdagende tyd ’n stil plek opsoek. Jesus het gereeld eenkant toe gegaan om sy “oorlaaide kragdrade te ontbondel en weer by sy Hoofbron in te prop”. In Lukas 5:16 lees ons: “Maar Hy het Hom altyd weer in eensame plekke afgesonder om daar te bid.”
Indien Christus dit nodig geag het, moet ons dit ook doen.
Here Jesus, ek wil weer en weer in stilte by U tot rus kom. Amen.