As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ’n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien? – Psalm 8:4.
Jare gelede het ek aan ’n Bybelstudiegroep behoort. Ons klompie was jonk en doenig met ons babas, peuters, kleuters en skoolbeginnertjies. Een van die vroue het besonder moeilike persoonlike omstandighede gehad. Sy was elke Dinsdag getrou op haar pos, met haar spannetjie kleingoed aan die hand.
Wanneer sy gebid het, het daar ’n stilte oor ons gekom. Haar gebed was suiwer aanbidding. Sy het meer as enigiemand anders verstaan hoe groot en almagtig en hoog verhewe God is. En hoe klein en onbenullig sy voor Hom is. Sy het Hom vir sy almag en majesteit geprys, sy ontsagwekkendheid geloof.
Haar gebed het my laat dink aan die vier lewende wesens van wie in Openbaring 4:8 geskryf word: Hulle het dag en nag sonder om te rus, gesê: “Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom.”
Wanneer ons God bewonder, skuif ons gedagtes weg van onsself en ons eie behoeftes en begeertes. Ons word met ’n verlange na Hom gevul. Ons word bewus van sy ondenkbare andersheid. Sy majesteit. Sy allesomvattendheid – veel groter en ver verhewe bo ons eie klein kwellings en bitter breekbare lewetjies.
Trevor Hudson skryf in Signposts to spirituality: “As ons God só begin beleef, trek ons ons skoene uit, omdat ons weet ons staan op die heilige grond van sy teenwoordigheid.”
Here, ek trek my skoene uit. U is heilig. Amen.
