Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is, soek vrede en jaag dit na! – Psalm 34:15.
Ons práát oor vrede. Ons préék daaroor. Pleit en bid daarvoor. Tog ontglip dit ons voortdurend.
Ons leef in ’n samelewing waar onvrede aangeblaas word. Die reklamewêreld hou jeug, voorspoed en besittings as voorvereistes vir innerlike vreugde en vrede voor. As jy dus êrens tekortskiet, begin die onvrede aan jou knaag.
Kort voor lank is jou vrede afhanklik van sigbare, meetbare dinge. As jy nie die gesig of liggaam wat deur die media voorgehou word in jou eie spieël sien, of die regte sertifikaat teen jou kantoormuur kan hang nie, is onvrede jou knaende metgesel.
Onvrede strek egter nog verder. Dit kring uit na gemeenskappe wat in konflik met mekaar is – dikwels oor beuselagtighede. Dit infiltreer lande, volke en moondhede. Oorloë word gevoer: oor grondbesit, olie, landsgrense en geloof. En vredesonderhandelinge bring weinig hoop op durende vrede.
Vrede is nié die stywe glimlagge en handdrukke van politici rondom ’n onderhandelingstafel wanneer die TV-kameras rol nie. Dít is skynvrede. En dit hou op wanneer die kamera se sluiter toegaan.
Teenoor die stokers van onvrede staan die ware vredemakers. Dié wat God se vrede koester en uitleef. Hulle is tussen ons: in hospitaalgange en klaskamers, by dienstoonbanke en petrolpompe.
Opregte vrede kom uit die hart; nie deur ’n lys voornemens oor hoe jy vrede kan uitleef nie. Dit kom na vore in die manier waarop jy na jouself en ander kyk: met Jesus se oë van deernis, liefde en onselfsugtigheid. Hierdie vrede begin tuis, in die klein kring geliefdes.
Here, gee ons ware vrede. Amen.