Ek was ook eenkeer ’n kind, my moeder se oogappel, haar enigste – Spreuke 4:3.
Daar is baie maniere waarop ek my liefde vir ander kan uitspreek. Een van hierdie uitdrukkings is: Jy is my oogappel. My gunstelingmens.
In die middel van die oog se gekleurde iris is die pupil, die opening wat van grootte verander om by die sterkte van die lig aan te pas. Die oogbal – met die gekleurde reënboogvlies en pupil in die middel – word die oogappel genoem. In Middelnederlands is die oogappel ook die ogensterne genoem, die ster van die oog. Helder. Blink. Opvallend. Partykeer hoor ’n mens ’n ouma sê: “My kleinkind is my oogappel.”
Daarmee bedoel sy dat haar kleinkind baie kosbaar vir haar is. Hy is sy ouma se liefling, ’n kosbare skat. Die middelpunt van haar liefde.
Die Bybelse “oogappel” verwys dikwels na God se besondere liefde vir sy volk Israel. In Deuteronomium 32:10 staan daar: “Hy het sy volk in die woestyn gevind, in ’n onbewoonbare land waar woestyndiere skreeu. Die Here het sy volk omhels, hom vertroetel en versorg soos die appel van sy oog.”
Al was hulle ongehoorsaam en ontrou aan Hom, het die Here hulle steeds liefgehad en opgepas, selfs toe hulle ander gode begin dien het. Hy kon hulle nie vergeet nie en het bitterlik oor hulle gehuil.
Só stel Sagaria 2:8 dit: “Wie aan julle vat, vat aan my oogappel.”
Toe hulle oor hul sonde berou gekry het, het die Here hulle weer uit Babel, waarheen hulle as slawe weggevoer was, laat terugkom. Want die Here was lief vir hulle. Hulle was sy oogappel.
Dankie, Here, dat ek ook u oogappel mag wees. Amen.