“‘Eer jou vader en jou moeder, soos die Here jou God jou beveel het, dan sal jy ’n lang lewe hê’” – Deuteronomium 5:16a.
Kinders leef in hul eie klein wêreld. Hulle besef dikwels nie hul ouers is ook maar mense met hul eie behoeftes en uitdagings, vreugde en teleurstellings nie. Hul ouers het ook probleme met vriendskappe, of word by die werk benadeel.
Kinders maak sonder meer op ouers se tyd en aandag aanspraak. ’n Seuntjie aanvaar dat sy pa Saterdae langs die sportveld staan, onbewus van sy meedoënlose werkskedule én dat hy waarskynlik veel eerder sou wou laat slaap.
Tieners is dikwels selfsugtig en onbillik. Party is so vasgevang in hul eie leefwêreld dat hulle nie eens daaraan dink dat Ma ook moeg en siek kan voel nie, of behoefte aan koestering en begrip het nie. Ma moet vanselfsprekend regstaan vir hul behoeftes!
Terwyl tieners deur hul storm-en-drang-tyd gaan, beleef ouers waarskynlik ook lewensfases wat vir hulle ewe nuut en vreemd is. ’n Kind se gereedmaak vir die grootmenswêreld val dalk saam met ’n pa of ma se afskeid van ’n geliefde ouer. Soms is die jongmens salig onbewus van sy of haar ouer se pyn – of ontken dit met opset.
Dikwels beskou kinders hul ouers bloot as versorgers en besluitnemers, ook as gesagsfigure wat reëls neerlê.
Party ouers se optrede verdien nie respek en waardering nie. Tog moet hulle steeds as gesagsfigure erken word. Wanneer ons ons ouers as mense leer ken, verstaan ons hulle beter. En sodra ons begrip vir hul swakhede kry, begin ons empatie groei.
Saam met God se opdrag rus Hy ons ook toe.
Here, help ons om ons ouers te eer. Amen.