Daniël het gesê: “Mag die Naam van God altyd geprys word, Hy aan wie die wysheid en die mag behoort, Hy wat tye en omstandighede verander, wat konings afsit en konings aanstel, wat aan die wyse manne die wysheid gee en die verstand aan dié wat insig het, wat ondeurgrondelike en verborge dinge openbaar en wat weet wat in die duisternis is; by Hom is die lig” – Daniël 2:20-22.
Watchman Nee, die bekende 20ste-eeuse geestelike, skryf in The spiritual man, sy bundel versamelde werke: “During our spiritual walk, we may become over-active in self-analysis. In observing the condition of our inward life we tend to over-analyse our thoughts and feelings and the movements of our inner man.”
Wanneer ons ons motiewe en optrede onophoudelik ontleed en aanhou wroeg oor wat die regte ding is om te doen, verloor ons ons gemoedsrus en bly heeltyd bewus van hoe ons verwagtinge verskil van dít wat ons uiteindelik doen. Ons skiet tekort, en dit laat ons met ’n gevoel van mislukking, waarsku Nee.
Om self verantwoordelikheid vir elke besluit te probeer neem en onsself dan te kasty wanneer dinge nie uitwerk nie, is ook ’n bedekte eie-ekkerigheid. Ons sê daarmee dat ons niemand anders as net onsself vertrou nie.
My vrede lê daarin dat ek my oë na God sal draai en nie na myself waar ek aan my onvolmaaktheid herinner word nie. Wanneer ek ophou probeer om self alles perfek te doen en die uitkoms volledig aan God oorgee, kan ek asemhaal en vertrou.
Here, U is in beheer. Help my om nie vir alles verantwoordelikheid te wil aanvaar nie. Amen.