“Maar dit is die gees in die mens wat die mens insig gee, die gees wat van die Almagtige af kom. Dit is nie die baie jare wat verstandig maak en aan oumense insig gee in wat reg is nie” – Job 32:8-9.
’n Vriendin vertel van ’n Engelssprekende hoërskoolmeisie wie se ma by haar kom aanklop het om haar kind te help om Afrikaans onder die knie te kry. Ná vyf jaar se weeklikse klasse kon die jong meisie vlot Afrikaans praat.
Mettertyd het die juffrou haar vertroueling geword. Dwarsdeur die onseker hoërskooljare was haar onderwyseres ’n vaste baken na wie toe sy elke keer kon terugkom wanneer die lewe daarbuite geniepsig of bloot ’n warboel emosies was.
Daar het egter nóg iets gebeur. Die onderwyseres het deur die tiener se jong oë na die lewe begin kyk. Haar vriendskap met die jong meisie het haar lewe ook verruim. Sy het begin waag. Sy het weer in haarself leer glo. Sy het besef dat sy nog baie het om aan ander te bied. Sy het geleer om weer elke nuwe dag onbevange in te nooi.
Die ouer vrou het die woorde van die jong Elihu in die teksgedeelte hierbo vir haarself toegeëien. Sy het besef dat God haar lewensondervinding wou gebruik om ander se lewe te verryk, maar dat sy terselfdertyd met ’n oop gemoed na ander moes kyk en luister.
Here, ek is bereid om myself oop te stel vir wysheid. Bewaar my daarvan om te dink dat ek alle wysheid in pag het. Amen.