Dit is Hy wat al my sonde vergewe, wat al my siekte genees, wat my red van die graf en my met liefde en ontferming kroon, wat my die goeie in oorvloed laat geniet, my die jeugdige krag van die arend skenk – Psalm 103:3-5.
Ons bidgroepie gesels oor God se oorvloed. Ons herroep gebedsversoeke wat ons deur die jare voor die Here se voete gelê het. Die lang lys gebede en elkeen se uitkoms word ’n ononderbroke tydlyn wat die ryk gebedsgeskiedenis van ’n paar vroue skilder. Ons gebede verbind ons onlosmaaklik aan mekaar.
Een van die vroue merk tereg op dat ons nie dáár was toe Christus gebore is nie. Ook nie toe Hy gekruisig is en opgestaan het nie. Maar ons is nou hiér. Ons kan deel in die oorvloed van sy nalatenskap. Daarom mag ons nie stilbly nie.
Ons is getuies van hoe eenvoudige klein gebede in ’n klein sitkamer in ’n huis aan die suidpunt van Afrika uitkring tot by geliefdes in Australië, Kanada en Taiwan. Ons gebede omspan die aardbol. Ons beleef die krag van gebed. En die seën wat saam daarmee oorspoel tot aan die verste uithoeke van die wêreld.
Wanneer kinders weet daar is ’n ma wat vir hulle bid, skep hulle moed om aan te hou wanneer uitdagings hulle oorweldig. En dit spoor hulle aan om in die dampkring van daardie gebede te bly en self te begin bid.
God begeer dat ons die goeie in oorvloed sal geniet. Hy wil ons en ons kinders met sy liefde en ontferming kroon, sy hoogste eerbewys vir ons as Koningskinders.
Here, dankie dat U my oorvloedig seën en met liefde en ontferming kroon. Amen.