Toe die farao die volk laat trek het, het God hulle nie die pad na die land van die Filistyne toe laat vat nie, hoewel dit die kortste was, want Hy het gesê: “As die volk in ’n geveg betrokke raak, kan hulle dalk spyt kry en na Egipte toe teruggaan.” Daarom het God die volk met ’n ompad laat gaan, met die woestynpad in die rigting van die Rietsee – Eksodus 13:17-18a.
Ons is op reis deur die lewe. Op pad Kanaän toe, die Beloofde Land, ons Ewige Tuiste. Tussen die vleispotte van Egipte en die land wat oorloop van melk en heuning lê ’n barre woestyn. ’n Pad van toetsing. Soms uitsigloos. Soms met ’n groen palmoase van rus. Maar steeds ’n pad waarop jy elke dag met ’n staf in die hand en skoene aan die voete jou kop moet oplig en in geloof verder stap.
Daar is kortpaaie en afdraaipaaie wat ons in ons reis deur die lewe kan neem. Dikwels stuur God ons egter met ’n ompad deur die woestyn. Hy weet dat ’n woestynpad dikwels die beste pad vir ons is. Tydens die 40 jaar lange swerftog in die Paran- en Sinaiwoestyn is die Israeliete vir hul intog in Kanaän voorberei. Hulle is op die proef gestel. Hulle moes leer van nederigheid, dissipline, gehoorsaamheid en om volgens die Here se gebooie te leef.
Woestyntye is eensame tye. Tye van stroping, maar ook van groei en suiwering. En van die besef: God is die Groot Getroue. Hy is wie Hy is.
Vir Hom is die hoofsaak dat elkeen van sy kinders wysheid bekom.
Here, wys my die pad van wysheid. Amen.