Want ek verlang om julle te sien, om julle een of ander geestelike genadegawe mee te deel, sodat julle versterk kan word; dit is, dat ek saam bemoedig kan word onder julle deur die gemeenskaplike geloof, van julle sowel as van my – Romeine 1:11-12 (1933/1953-vertaling).
Dikwels het verhoudings opknapwerk nodig. Soms verwaarloos ’n mens ’n vriend, of daar gebeur iets wat ’n wig tussen julle indryf. Tyd is dan nodig om weer die ou vertroue te herstel.
Ek onthou ’n besondere maatjie. Ek was onseker en vreemd in ’n nuwe skool en sy het my onder haar vlerk geneem. Ons gedeelde liefde was boeke. Wanneer ons by mekaar gekuier het, het ons vir mekaar stukkies voorgelees wat vir ons mooi was. Dan het die middag met al sy geroesemoes rondom ons vervaag. Deur die jare het ek dikwels aan daardie vriendskap gedink wat stilweg doodgeloop het soos wat ons belange verskuif en ons ouer geword het.
Onlangs trek ons terug na my grootworddorp. Tussen die volgepropte rakke van ’n boekwinkeltjie loop ek my kleintyd-vriendin raak. Daar – tussen die boeke – voel dit vir my of ons weer terug is op die hoë stoep wat uitkyk op die berge. Ek neem my voor om hierdie kosbare boekemaat en wyse lewensreisiger se vriendskap met toewyding op te pas – al neem dit baie boeke en baie koppies tee op hoë stoepe.
Mooi dinge trek ons na mekaar toe. Boeke. Musiek. Kuns. Die natuur. Al hierdie dinge word ’n getuie van die liefde wat standhou ondanks ons eie argeloosheid. God is die Groot Heelmaker, die Baas-restoureerder.
Dankie, Here, dat U ook skoonheid gebruik om mense by mekaar – en by U – uit te bring. Amen.