As julle egter in ’n situasie kom waar julle twyfel oor wat die regte ding is om te doen, gaan vra vir God. Hy sal nie snaaks van julle dink of julle verwyt omdat julle onseker is hoe om vir Hom te leef nie. Hy sal julle eerder help met alles wat julle nodig het. Gaan vra; Hy sal gee – Jakobus 1:5 (Die Boodskap).
Ek onthou die middag toe ons tuisgekom het ná die geboorte van ons eersteling. Ek het by die stil, netjiese huis ingestap en besef: Van hierdie oomblik af gaan niks ooit weer dieselfde wees nie. Dit was byna of ek en ons baba beter inpas by die hospitaal met sy babakamer, die reuk van ontsmettingsmiddels en huilgeluidjies al met die gang af.
Daar het ek beskut en geborge gevoel – alles was so onder beheer. Vir elke kwelling was daar ’n behulpsame suster met wyse raad byderhand. Nou is ek en my man tuis. Skielik is ons op onsself aangewese om ’n tuiste vir hierdie kindjie te skep wat hy “ons huis” sal noem. Ons weet nie hoe nie.
Ouers en gesagsfigure wat kinders tot volwassenheid moet begelei, het wysheid nodig, want ons voel meestal onmagtig en ontoereikend. Die woorde van Jakobus 1:5: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid,” is op ons van toepassing. Deur volgehoue gebed kry ons die wysheid om hierdie ewigheidswerk te doen.
Here, skenk ons u wysheid om die kinders onder ons sorg te leer en te onderskraag op hul pad na volwassenheid. Amen.